Ons Ladies of Harley motiveringsaand op Woensdag 5 Augustus, aangebied vir liefdadigheid deur Mev. Polokwane, was ‘n reuse sukses!
Na afloop van die gasspreker Gretha Wiid se boodskap, het ons 8 Harley vriendinne se ogies mooi geblink met soveel kennis van die Gees. Dit was voorwaar heerlik om soveel Goeie Nuus op een aand te kon absorbeer.
Dankie aan Charmé wat baie aktief kaartjies verkoop het oral waar sy betrokke is en ook aan Dina wat deel was van die organisering van die funksie wat behoorlik uit sy nate gebars het – voorwaar voorslag dames hierdie en dankbaar vir julle positiewe invloed op baie ander vroue!!
Op Sondag 2 Augustus het ons ‘n heerlike Bosveld Outride gehad na Alldays. 15 lede (9 Harleys) woon by.....+/- 420 kms per fiets.
Die pad via Mooketsi, Soekmekaar, Louis Trichardt, oor die berg via Waterpoort na Alldays was pure Bosveld alli pad….en nog lekkerder op ‘n Harley!
Goeie vriende en kos het die uitstappie na Riversdale vervolmaak….met poerring daarby! Dankie aan Martin & Magda vir julle vriendelikheid en gasvryheid, dit was ‘n heerlike dag!
Ons Sondag, 12 Julie Outride na Khaya Noster, het toe ‘n Khaya Droster geword!! ;-)) Ons het met aankoms gesien hierdie gaan ‘n gesukkel wees en dadelik Plan B uitgeruk en heerlik gaan eet en kuier by die Dros in Warmbad! Die weer was fantasties vir ry en al 17 lede, 11 fietse, wat saamgery het, het dit baie geniet!
Paternoster na PaterDroster…. DrosterNoster….julle weet hoe ons klomp kan lag oor iets!!? Dankie vir elkeen se positiewe gesindheid wanneer dit kom by hierdie tipe dinge wat gelukkig min in ons Chapter gebeur…. Waardeer julle BAIE!!
12 Harleys; 18 Lede het oor die hoogste berge gery, deur die diepste valleie, verby watervalle, riviere en strome, woude en plantasies! Heerlike vars oggende met dae wat perfekte ry-weer opgelewer het, presies die voorreg wat ons hierdie tyd van die jaar het in ons area!
Alles het 100% uitgewerk soos Benhardt vir ons beplan het – baie dankie Benhardt vir jou detail reëlings! Ons almal het dit ongelooflik geniet.
Saterdag - 27 Junie vertrek ons om 7:00 - Polokwane bikes vertrek vanaf Shell Bendor na Tzaneen via die Magoebaskloof pas. Ons sluit aan by Tzaneen bikes vir ontbyt by die Blue Bell Guest House in Tzaneen. Vertrek na Orighstad via Abel Erasmus pas. Vertrek na Lydenburg via Veraaiersnek pas. Vertrek na Sabie via Masjiennek pas & Long Tom pas & Koffiehoogte pas. Heerlike middag ete word by The Woodsman in Sabie geniet. Vertrek na Hazyview via Bergvliet pas, shop leke en drink ‘n ietsie waarna ons vertrek na Graskop via Kowyns pas. Oornag in die Graskop Hotel en geniet ‘n heerlike Portugese aandete by Canimambo Restaurant…. ons kan regtig hulle prawns aanbeveel!!
Sondag - 28 Junie vertrek ons na Orighstad via Bonnet pas & Robbers pas. Daarna na Tzaneen via Three Bridges waar ons stop vir ‘n ietsie. Middag ete by Crawdaddy's, Tzaneen waar ons die Tzaneeners groet en vertrek die Polokwane bikes huis-waarts via George's Valley pas.
Benhardt het reeds ons kilometers ge’log’ en kan ons Chapter spog met naby 1,000 kilometers afgelê as ons aandeel aan hierdie wêreld-wye-ry! Die totale kilometers gery dwarsoor die wêreld staan nou op 11,879,113 kilometers!!! Well done en DANKIE aan al ons lede wat saamgery het – ons het almal ons Word Ride Certificates ontvang via e-pos!
Dis lekker as lede moeite doen om saam te ry, veral as daar soveel moeite en beplanning vir jou as lid gedoen word, deur ons mede-lede…..
Benhardt en Charme Steyn het hierdie one nighter op hulle geneem, baie dankie aan die Steyns!! Heerlike ryweer sorg vir BAIE ry!! Eet heerlik by die Upperdeck Saterdag middag; pit-stop by BrauHaus on Dam; Baie nice blyplek en aandete en KUIER die aand! Celeste het fotos geneem en Linda het geplaas. 27 lede (17 fietse) woon by.
Tommy Lyons het die geleentheid vir ons Chapter gereel, baie dankie Tommy! 12 lede woon by. Baie lekker en geregte baie goed.
Op Woensdag 22 April vertrek Liebenberg, Groenewald en Pretorius, na baie opwinding en mooi pak, na die Caltex Star Stop by die Ranch Hotel waar Steenkamp by ons aansluit vir 'n heerlike warm ontbyt. Met vol tenks en magies, ry ons oor Marble Hall, Groblersdal, Middelburg na Wakkerstroom. Net so 40km voor Ermelo ry ons in die Ma van alle reen en haelstorms vas. Nooit geweet almal kan hulle reenpakke so vinnig aantrek nie. Soos Eskimo's ry ons na Ermelo om by die Spur iets warm in die lyf te kry. Ons vertrek droog en warm na Wakkerstroom vir ons eerste oorslaap op die pad. Wat 'n mooie landskap. Bome staan kiertsregop in alle verskillende kleure as teken van die herfs wat aangebreek het. Na 'n drankie voor die heerlike kaggelvuur, geniet ons aandete by 'n snoesige restaurantjie, The Garret Emporium.
Donderdag oggend ry ons oor Volksrust, Newcastle en Ladysmith na Nottingham Road. Die Natalse middeland is werklik mooi, die bier by die boutique brouery vloei maklik en die geselskap, uit die boonste rakke. Johann en Linda gaan soos besorgde ouers eers die blyplek ondersoek voordat hulle ons daarheen neem. Wat 'n aangename verassing. Ons bly oor in Rutland Ridge House, 'n pragtige huis op 'n perdeplaas. Ons geniet heerlike wyn en braaivleis in kerslig - "they call it Load Shedding". Hier is ook geleer dat "mince & mash" eintlik maalvleis en kapokaartappels is... HaHaHa ;-))
Na ontbyt in Notties - dit was noodsaaklik om die bewerige ingewande te kalmeer - ry ons na Margate waar die "honeymoon couple" Blignaut ons inwag. Ons maak 'n draai by die ABW venue en eet gou 'n ligte middagete by Larry's. 'n Vriendelike oompie van Sasolburg was so beindruk deur ons oulike vroutjies dat hy die een rondte shooters na die ander op ons laat neerdaal het. Sommige dames se slaai het later soos beet bakke gelyk. Ons eet by Flavours in Ramsgate en gaan vroeg bed toe vir n heerlike nagrus.
Saterdag begin met ontbyt by Waffle House waar Soon en Irma ook by ons aansluit. Vir sommige was dit nogal 'n ervaring om ontbyt op 'n wafel te eet en party selfs met roomys op. Ons parkeer binne in die venue op VIP parkering - dankie Linda vir die reelings. Party het probeer om die stalletjies met Harley produkte, leeg te koop. Ons kuier lekker by die HOG Hospitality Area . Almal was so honger en ons gaan heelwat vroeer na C-Bali vir heerlike seekos. Hier ontmoet ons toe vir Faan, Hannelie, Bullet en Monique. Raai wie het almal oortuig om 'n shooter te drink!!? Mon op haar beste! Oppad terug na ons huisies, word ons deur die naam "Fork-n-Pub" na 'n local pub gelok. Ons kuier en kyk rugby saam met die locals maar besluit toe om die Harleys by die huisies te gaan parkeer. Ons ry terug na die pub in 'n taxi waarvan die agterste sitplek soek is. Leon en Bennie sit agter op die vloer en kan nie eers by die venster uit sien nie. Die partytjie en die dans was so goed, dit het nie eers gepla dat die Bulle verloor het nie. Steenkamp en Groenwald maak ruim donasies van splinternuwe Harley klere aan die plaaslike gemeenskap in die "Herverdeling van Rykdom" program, daardie nag.....ai, ons land darm!
Met swaar gemoedere en harte, ry ons terug na Johannesburg. Onse Direkteur druk ons en ons ry 750km tot in Midrand. Die Steenkamps laat ons agter en gaan tot in Pretoria by hul famile. Ons sluit die aand af met 'n heerlike kerrie ete by The Raj in Waterfall Park. Uit vorige ondervinding op hierdie trip, besluit ons om eerder met 'n bussie na die restaurant te gaan....wat 'n goeie gedagte!
Maandag oggend ry ons na Harley Davidson Pretoria waar ons by Route 66 Diner 'n heerlike ontbyt eet en ons vir oulaas aan al die mooi nuwe Ysterperde kon verkyk. Om 13:30 arriveer ons terug in Polokwane. Polokwane fietse het sowat 2,240km gedoen en die Steenkamps van Tzaneen 2,460km.
Ons dank aan die Here dat hy ons veilig oor hierdie afstand gehou het en aan ons goeie weer en goeie vriende gegee het om te geniet. Natuurlik, Johann en Linda, wat sou hierdie trip gewees het sonder julle fyn beplanning. Johann met sy padkaart en Linda met die selfoon!
Vir ons was hierdie 'n eerste, maar beslis 'n trip wat ons altyd sal onthou. Die ander fietse, julle was GREAT....... Die bonding, lag, grappies en poetse wat gebak is met soveel liefde en kammeraadskap maak dit vir almal die moeite werd om 'n lid van HOG LIMPOPO te wees!
Tot volgender keer........ARRIE WARRIE!!
Ben & Dina Pretorius
Die Outride, gereël spesiaal vir almal wat nie Africa Bike Week toe gaan hierdie jaar nie, was bo verwagting?!! Die droeë rit na Mountain Inn anderkant Louis Trichardt – ja, nie ‘n druppel reën nie – die lekker kuier met ‘n pragtige uitsig en ‘n klavier wat speel in die agtergrond, die heerlike (en baie) geregte voorgesit, alles voortreflik, en ons was regtig veras met die plekkie!!
17 lede woon by ‘come hell or high water’ – dankie julle! Ons sou 27 wees maar die weer het verseker ‘n invloed gehad op lede se besluit om te ry of te bly. Alle eer aan Renier en Debbie wat in ‘n motor gespring het en nie onkant gevang wou word met Renier se sig, sou dit kwaai reën nie. Dit is wat mens noem ware Passie & Pêlle! Gaan kyk gerus na ons fotos op www.hog-limpopo.co.za – dankie Lynda.
Dit was ook lekker om vir Rodney Cooper as nuwe lid en op sy eerste amptelike outride saam met HOG Limpopo te verwelkom! Debbie, sy vrou, kom verseker volgende keer saam! Dankie aan Dina Pretorius wat gehelp het met die ‘navorsing’ van ‘n geskikte eetplek vir ons groep – dit was nogal ‘n mission om verwysings te kry oor nice plekke op Louis Trichardt! Google weet nie altyd alles nie…. ;-))
22 Lede, 2 spik-splinter-nuwe-swart-identiese Harleys plus nog 10, ry die heerlike warm Laeveld in, opsoek na die beste Prawns in die land, want ons hou mos van Harley ry en van goeie prawns…..
Villa Luso, wat spesiaal vir ons oopgemaak het Sondag, het aangebied 1kg Queen Size Prawns @ R200….meer as genoeg om te deel sou jy wou….dus R100 per persoon vir ‘n heerlike ete bedien met flippin lekker chips, rys en slaai.
Die kwaliteit was weereens baie goed en ons het omtrent vingers afgelek en lekker saamgekuier!
Dankie aan almal wat saamgery het…..Joyce se glimlag het om haar ore gestrek van lekker-kry – was haar eerste outride saam met ons Chapter as nuwe lid en ons moet rapporteer, sy is BAIE gemaklik en vertroud met haar Harley.
34 Lede op 17 Harleys woon ons jaarlikse Valentyns Two-Nighter by, hierdie keer op Kaapschehoop, Mpumalanga.
Ons roete daarheen en terug was sonder voorval en nie ‘n druppel reen….wel, tot ons klompie uit Polokwane so 60 kilometer voor die huis was, het ‘n geweldige bui reen oor ons uitgesak, maar wat ‘n lafenis!!!?
Ons roete daarheen het ons geneem vanaf Polokwane na Tzaneen en toe na Hoedspruit waar ons gestop het by Hat & Creek vir ‘n goeie brunch.
Ons vertrek oor die Abel Erasmus Pas, draai links af na Bourke’s Luck, Potholes oor Graskop, Sabie via Nelspruit Big Five waar ons ons vleispakkies optel, en die Blignaut egpaar, hulle nuwe Harley – na Kaapschehoop. ‘n Heerlike pad om te ry saam jou geliefde…..
Aangekom by Silver Mist Gastehuis op Kaapschehoop, ‘settle’ ons lekker in en kom weer die aand bymekaar vir ‘n heerlike braai met bygeregte voorsien deur die gastehuis.
Saterdag oggend geniet ons ‘n heerlike pannekoek-ontbyt by Koek ’n Pan en pak ‘n fris stappie aan na die waterval net daar naby! Asemrowend en verfrissend! Onthou julle nog die waarskuwing….”EN onthou - as die son skyn, stap ons na ontbyt na ‘n Baie Spesiale plekkie….so, pak jou tekkies, swemklere, hoed, sonskerm (en jou longe) in!!?”
Maar van die tweede nota is nie veel nie notisie geneem nie – “Die res van die dag is jou eie. Geniet die natuurskoon, blou swaeltjies, wilde perde en vrede, saam met jou Valentyn……” – want toe ons weer sien toe kuier ons groep dat die bloed loop!! DIT WAS GREAT VERBY! Ons het SO gelag en gekuier en gekloek en ge-shoot dat ons amper amper die aand se spesiale Valentynsete gemis het…. ;-))
Ons eet die aand toe by Bohemian Groove Café…..die Broadway en Franse musiek was besonders en die plek se atmosfeer en kos is die Beste wat ons kon kry op so ‘n klein dorpie soos Kaapschehoop.
Sondag oggend, 15 Februarie, vertrek ons terug oor die berge en eet ‘n brunch by The Woodsman op Sabie, voor ons weer almal veilig huis toe ry oor ‘n pas of drie….heerlike en veilige kilometres is afgele.
9 van ons lede het die geleentheid bygewoon en dit was nogal FANTASTIES!!! Heerlike ry-weer daarheen en terug, lekker geselskap, mooiste winkel in die land (en dalk Europa ook!!), spesiale pryse aangebied, lekker musiek en 'n GROOT kuier!! Dit som dit hopelik op....? Dankie vir elkeen wat toe wel saamgery het. Weereens, 'n vinnige in en uit en SO die moeite werd gewees!!
Dankie Tommy en ons lede daar, wat almal gehelp het met voorbereidings vir die dag. Was heerlike ry-weer vir ‘n eerste outride!! Lekker stop by Iron Crown voor ons vertrek na Maxims via Magoebaskloofpas. Daar aangekom het ons net 'n uur nodig gehad om die nodige besluite te neem en goedkeurings te kry waarna ons 'n lekker stukkie steak en wors gebraai het met pap, sous & slaai. Daarna is die Polokwane lede via Georgesvallei terug huiswaarts. Dankie aan al die lede wat wel saamgery het!