HOG Pretoria nooi ons Chapter Amptelik uit na ‘n Outride wat hulle reël na Castle de Wildt in Modimole (naby ou Nylstroom). Weet nie of jy al daar was nie, maar dit IS nogal ‘n belewenis om te sien!
16 HOG Limpopo lede woon die geleentheid by met 10 Harleys en dit was weer net die lekkerste ry-weer en kuier in die Bosveldson...dankie vir almal wat saamgery het en gelei het...Harry & Hendrik, ons waardeer!
Ons wag nog vir terugvoer na 'n Allerheerlike Naweek weg!! Hou die spasie dop!
Le Roux; Kruger; Van Heerden; Rautenbach; Swanepoel; Liebenberg; Groenewald; Pretorius; Steyn - woon by - 17 lede met 10 Harleys!
Wonderlikste blyplek is deur Eleanor gereel by Villa Afriq, so mooi en so so fyn uitgekies na elkeen se smaak.
Die kuierplekkie vir die aand, Jam-Jar, was omtrent 'n FEES om by te wees....ai wat 'n lekker kuier!!
Na ‘n vinnige Mugg & Bean koffie, spring Marius, Harry, Karen, Stephan, Eleanor, Rachel en Stephan Nel (ons gas, met sy blinknuwe Fat Boy), op hulle bikes en val in die pad Dendron toe. En wat is nou lekkerder as die Magoebaskloof pas vir die “happy hormones” om te pomp!
In Polokwane ontmoet ons vir André, Tina-lief en Butch en na ons hallo’s uitgeruil het, druk ons die ysterperde se neuse Noorde toe. ‘n Ent voor Dendron verras Bach en Katleen, nogal op haar nuwe trike, ons.
Die Bosveld Lodge se kos word “gebou” vir die groot honger. Die porsies is ekstra groot en die 1kg steaks was ‘n so na ‘n man se smaak! Ons kon maar net later wonder oor die poeding….
Na ‘n lekker kuier, oorvol magies en die Sondagkoerant wat roep, was dit weer tyd vir alleenwees met daai groot liefde van jou lewe - jou eie persoonlike Harley Davidson motorfiets. Om een te word met die tegnologiese wonder hier onder jou en te weet: die hemel is hier en nou! Om nie te veel te dink nie – niks te praat nie en net te geniet! Pure lekkerte totdat jy jou liefde in die garage stop, die lig afsit en die deur toemaak en weet as jy moet verduidelik – sal jy nooit verstaan nie.
10 Harleys ry saam; 11 lede plus 1 gas.
Rachel Sonntag neem pragtige fotos vir ons website en het ook die terugvoer goedgunstiglik geskryf, ons is soooo bly jy is deel van ons Chapter Rachel....dit is wonderlik om jou te ken en saam met jou jou passie te kan deel.
Baie dankie Stephan Le Roux vir al jou reelings rondom hierdie lekker outride, ons waardeer jou en Eleanor ongelooflik baie!!
I FEEL BAD FOR THE PEOPLE WHO NEVER GO CRAZY
Dag 1 - 30 April 2017; 454 km
Dendron & Tzaneen – Rustenburg en Tzaneen – Polokwane
Jippie, ons is oppad na Namibië met ons Harleys! Vir die volgende 2 weke gaan ons meer as 5 000 km ry. Zeerust, Kang Botswana, Windhoek, Swakopmund, Walvisbaai, Tsumeb, Etosha, Caprivi, Kasane ... en dit op ons Harleys!
Bach & Kathleen en Harry & Karen ry tot in die Rustenburg omgewing en oornag by familie en vriende.
Mike & Hester en Marius ry tot in Polokwane en Johann en Linda reel vir die groep ‘n Pork Belly braai as Geesvang voor ons vertrek.
I'D RATHER BE A BIKER FOR A MINUTE, THAN A SPECTATOR FOR A LIFETIME.
Dag 2 - 1 Mei 2017
Rustenburg – Zeerust; 131 km of Polokwane – Zeerust; 485 km
Die lug is helder blou, die sonnetjie skyn lekker en ons Afrika Bos is mooi. Ons is 11 Harleys & 1 Ondersteunings-Bussie. Die klank van brullende enjins sing op die teerpad. By Groot Marico stop ons vir ietsie koud om die dors te les. Deur Zeerust se besige hoofstraat moet ons kalm bly vir kamakaze minibus entrepreneurs. By Avanti, net buite Zeerust, kom ons tot ruste en kuier gesellig om ‘n vuurtjie terwyl die manne skaaptjops en boerewors braai. Dis lekker of om deel van HOG Limpopo Chapter te wees!
Dag 3 - 2 Mei 2017
Zeerust – Kang (Botswana); 426 km
Vroeg oggend het Avanti Lodge se hoenderhaan ons wakker gekraai. Ons is vinnig deur die grenspos en ons 11 Harleys kon die oop pad neem. Wat ‘n lekkerte! Plek-plek was plate geel veldblomme, baie donkies, wilde perde en beeste. 'n Waaghalsige volstruismannetjie het groot opwinding veroorsaak toe hy al saam met die Harleys gehardloop het en ewe skielik tussen 2 Harleys oor die pad nael. Om en by elke 100 km het ons gestop, bene gerek, ietsie kouds gedrink en gesellig verkeer. Vanaand slaap ons in Kang.
Dag 4 - 3 Mei 2017
Kang (Botswana) na Windhoek (Namibia); 710 km
Nog voor die son opgekom het, het ons die pad deur Botswana na Windhoek aangepak. Dit was briesend koud! Teen 8 uur het die sonnetjie darem hitte begin bring. Een van die baie slaggate het een van ons Harleys beskadig. Gelukkig kan dit herstel word. Ons is weer vinnig deur die grens na Namibië. Altesaam het ons noual ongeveer 1 678 km gery met ons Harley Davidsons. En glo my elke kilometer is pure lekkerkry! Vandag alleen was 710 km. Op 'n Harley is dit die moeite werd. Ons sluit die aand af by die węreld bekende Joe's Beerhouse. Drink Kleine Kleine Cherry Likeur en eet Eisbein!
Dag 5 - 4 Mei 2017
Windhoek – Swakopmund; 373 km
Namibië is pragtig! Voor Okahandja drink ons lekker koffie. By Usakos eet ons die lekkerste suurlemoen meringue tert. Nou begin ons semi woestyn kry met die Spitzkoppe in die verte. Die Harley se temperatuur indikator wys dis 39'C. Ons ry uiteindelik Swakopmund met sy palmbome binne. Vir die volgende 3 dae is Alte Brucke, reg langs die blou Atlantiese Oseaan ons tuiste. By die Skeleton Coast Rally se tent registreer ons en kry elkeen ‘n baie oulike ‘goodie bag’! Ons sluit die aand af met yskoue wyn en lekker seekos by Pier 1905 op die Swakopmund Kaai.
Dag 6 - 5 Mei 2017
Swakopmund; 75 km
Wat ‘n belewenis! Harleys vanaf Limpopo, Kaapstad, Durban, Pennington, Bloemfontein ... heinde en verre ry in ‘n ‘mass ride’ van Swakopmund na Walvisbaai. Aan die eenkant die woestyn en aan die anderkant die blou see. Wat ‘n voorreg! Ons middagete is by The Raft in Walvisbaai se hawe en is ingesluit by die Rally, heerlike Schnitzels en Calamari met yslike aartappels….
Dag 7 - 6 Mei 2017
Swakopmund; 100 km
Ons kuier by Windpomp 14 tussen Swakop & Hentiesbaai by Myl 14 op die see. Drink Amarula koffie, baie wyn & eet vis en/of calamari & properse weskus chips. Die lekkerste ‘live’ musiek speel en Limpopo Chapter bly natuurlik tot heel laaste! Later ry van ons na Duin 7 en ervaar die woestyn wind en sand behoorlik. Die Skeleton Rally sluit af met ‘n heerlike braai op die strand. Môre is ons oppad na die noorde!
Dag 8 - 7 Mei 2017
Swakopmund – Tsumeb; 565 km
Na ontbyt groet ons die koel seeluggie van Swakopmund. Die hitte tref ons vinnig hoe verder weg ons ry. By Usakos koop ons liplekker droë wors. Middagete is KFC op Otjiwarongo. Die pad is besig met mense wat Windhoek toe gaan na die naweek. Hoe nader ons aan Tsumeb kom verander die natuur. Die Otavi berge, kameeldoringbome & savanna gras is pragtig.
Nou het ons al 2 800 km gery. Ons is so dankbaar vir elke veilige kilometer. Ons slaap vanaand in Tsumeb by die Minen Hotel.
Dag 9 - 8 Mei 2017
Tsumeb – Etosha; 96 km
Wat ‘n ongelooflike dag!!! Vanoggend het ons ‘n vinnige draai by die Tsumeb Museum gemaak na ontbyt. Daar is ‘n baie goeie uitstalling van die Duitse Schutztruppe se artillerie en die geskiedenis van Tsumeb myn. Daarna was ons by die Otjikoto meer wat ‘n natuurlike sinkgat is. Toe is ons na Emanya @ Etosha. Dis n pragtige lodge! Ons wildsrit in Etosha Park was n belewenis en groot pret. Die hoogtepunt was toe n jagluiperd n rooibok bekruip het. Die Afrika sonsak was asemrowend mooi en ons kon almal rustig n glasie wyn geniet en Afrika inneem en opreg waardeer.
Dag 10 - 9 Mei 2017
Etosha – Rundu; 418 km
Die pad van Etosha na Rundu was lank en warm. Ons stop naby Mgunya en drink ietsie koud by ‘n regte cooka shop. Die enigste toilet daar was ‘n "long drop" wat gelukkig skoon was. Naby Rundu sien ons die grashutte van die plaaslike bevolking, die vars visse wat hang teen takke en vroue wat stap met kanne water. Ons slaap by Kavango River Lodge reg langs die Kavango Rivier. Pragtig sonsondergang! Die aand braai Johann en Bennie lekker skaapribbetjies, spesiaal aangekoop vir ons in Swakop by Namakwa Slaghuis. Ons eet braaibroodjies, koolslaai & soetmielies alla Harry.
Dag 11 - 10 Mei 2017
Rundu – Kasane; 648 km
6 uur voor sonsopkoms is ons oppad. Vandag is ‘n lang pad. Dis bibberend koud. Ons stop om ons ontbytpakkies te eet - appels, hard gekookte eiers en vars kaasbroodjies. Die sonnetjie kom op en gou kry ons warm. Naby Katimo Malimo bars ‘n band van ons "support vehicle" se waentjie. By die grenspos verloop alles glad en vinnig. Ons ry deur die Chobe. Wat ‘n belewenis! Op ‘n Harley sien ons olifante. Vir die volgende 2 dae is ons in Kasane by Kubu Lodge langs die Chobe rivier. Rustige plekkie, met bosbokkies wat loop tussen die chalets.
Dag 12 - 11 Mei 2017
Kasane Botswana
Vandag rus ons. Harleys word gewas. Party gaan vir n lekker spa massering. Ander verken Kasane. Die middag gaan ons almal op n boot-rit op die Chobe rivier. Wat ‘n lekker bederfie! Ons sien visarende, baie seekoeie, baie krokkodille, visvangers, olifante ... Die sonsondergang is weer pragtig!
Dag 13 - 12 Mei 2017
Kasane – Palapye; 660 km
Vroeg op vir ons DERDE Sunrise Monster op ons trip. Dis bitter koud op die bikes. Die pad tussen Francistown en Nata is met ‘potholes’ besaai. Ons ry versigtig en almal kom veilig deur. Vanaand slaap ons in die Majestic Five Hotel. Na ‘n lekker stort, kuier ons vir oulaas lekker saam om ‘n laaste aandete tafel. Môre is die laaste deel en gaan almal huis toe, mens kan dit bykans nie glo nie….
Uit en tuis by die huis!
5 295 km deur Botswana na die Skeleton Coast Rally in Swakopmund via Tsumeb, Etosha, Rundu, Kasane & weer uit by Botswana met ons Harley Davidson motorfietse. 10 motorfietse, 1 ondersteuningsvoertuig, 17 wonderlike vriende! Kosbare oomblikke wat altyd by my sal bly. Dankbaarheid vir geleenthede en veiligheid. Weereens het ek besef dat Afrika pragtig is EN dat ek nou maar net ‘n Harley girl is! Dankie Bach Breytenbach, Johann & Linda Liebenberg, Harry Kruger, Karen Kruger, Mike & Hester van der Spuy, Bennie & Corneli Groenewald, Ben & Dina Pretorius, Benhardt & Charmé Steyn, Marius Swanepoel & Henning de Jager , Johan Theron (gas) - vir memories forever!!
Uit die pen van Kathleen Breytenbach
Terugvoer komende vanaf ons Lede wat saamgery het:
"Lekker #inibosharleykuier....genuine friends filled with goodwill and laughter...dankbaar! Dankie Linda vir jou reelings en juweelplekkies wat jy opspoor!"
Ander skryf...."Die keuse van stop plekke was baie interessant en mooi! Ons sal graag weer ons unieke blyplek wil besoek in die toekoms. Die geselskap was uit die boeke! Die reelings puik en die ry, heerlik koel. Baie dankie vir 'n heerlike tyd in die Bos!"
14 lede, 9 Harleys, ry Saterdag saam en pub-crawl al te lekker saam....middag ete by Bush Pub Inn en ry al langs die berg af tot by die Blyderivier en daarna na ons blyplekkie....Raptor's View. 10 lede eet die aand heerlik by Sleepers waar die trein nostalgies elke nou en dan verby stoom....
Sondag oggend 'n egte Kaapse ondervinding in die Bos! Kom maar volgende keer saam om te deel in die lekker.
Oulike plek en 'n lekker pad na Elephant Restaurant wat Benhardt en Charme vir ons uitgesnuffel het! Baie dankie julle. Lekker geeet maar veral weer heerlike ry-weer en kuier-atmosfeer! Dankie Rachel vir die mooi fotos geneem by die plekkie. 13 lede, 2 gaste met 11 Harleys ry saam.
Ons Valentyn One Nighter na Mabula Lodge was nogal erg lekker – VERAL toe daardie koelboks reg onder Benhardt ontdek is deur Soon EN toe Soon ontdek het dat Andre & Tina se kamersleutel wel ‘n wynbottel se kurk kan uittrek!! Net daar is die voorman (dis nou die mooi game ranger) van die pad af ‘verlei’ en ‘n ‘sundowner’ plekkie is mooi uitgesoek waar die ‘katte’ tot laat rondgeloop het….. ;-))
Dit was ook die eerste keer in Mabula se geskiedenis dat Harley Davidsons op die Reservaat toegelaat is – 9 Harleys het saamgery!
Wat ‘n JOL en Lekker Lag!! Dankie vir almal wat saamgery het – ons 14 lede het sooooo lekker saamgekuier met Valentino 2017!!
24 Lede RY in die heerlikste koel weer, saam Laeveld toe - Selati River Ruins verwelkom ons op hulle dek wat uitkyk oor 'n vol Selatirivier! Ons AGM word baie vinnig afgehandel en ons almal kuier en smul aan sappige Burgers, self gebou. Nie 'n druppel reen nie.....almal veilig uit en tuis in perfekte ry-weer! Dankie aan elkeen wat moeite gedoen het om te kom groet so in die Nuwe Jaar, ons waardeer en dit was Lekker om elkeen weer te sien!! Ons 2017 HOG Limpopo Kalender word vinnig bespreek en is elders op ons webtuiste beskikbaar onder 'Event News & Highlights'. Hou asb ons 'outride' en 'sleep-over' datums oop vir BAIE Harley Pret & Plesier hierdie komende jaar!!
18 Lede woon ons 2016 Laaste Outride na Mountain Cafe by en geniet ‘n heerlike ‘lazy luncheon’ in die koeligheid van die Wolkberge, sentraal geleë in die Magoebaskloof Pas, vir meeste van ons HOG Limpopo Lede. Dankie aan almal wat kom groet het vir die ou-jaar!
Wat ‘n Fantastiese Jaareind was dit nie alweer vir ons Chapter nie!? 39 lede woon ons 2016 HOG Limpopo Jaarafsluiting by, te Grand Hotel naby Tarentaalrand – ‘n oulike venue ontdek deur Eleanor le Roux! In 39 grade Celsius het ons klomp heerlik ontspan in die GROOT & DIEP swembad – dit was ‘n heerlike lafenis Na die warm ry, na die Laeveld. Dankie aan die Tzaneen fietse wat ons klomp kom verwelkom het by Iron Crown die middag, terwyl die ander baie gesweet het om ons venue mooi te maak – net so dankbaar vir julle!!
Die aand se verrigtinge het sommer vroeg-vroeg begin en met die intrapslag het Mike & Hester van der Spuy ons onder ‘kamera’ gehad en almal deeglik afgeneem in die ‘Golden Hour’ om elkeen se moeite gedoen, vir ewig vas te lę in die oomblik! Dankie julle goeie fotograwe – daar lę nog ‘n heerlike verassing vir almal wat teenwoordig was voor het El beloof…..en dankie ook aan al die lede wat kiekies geneem het en aangestuur het Sondag!
Jinne, kan goeie vriende sooooo LEKKER kuier en net wees!!!!?? Die prys vir die bes-geklede Lady of Harley het gegaan aan Dina Pretorius; Die best dressed guy het gegaan aan Benhardt Steyn – well done julle – ons almal het werklik gelyk soos die foto hierbo en dit het gekook – letterlik en figuurlik! Na ‘n fantastiese ete het omtrent almal weer daai lieflike swembad betree…….splash-splash is elkeen goed afgekoel en ons het gedans (of gehop ;-) tot laaaaat die aand op die maat van die musiek uit die Hippie era!!
Na ‘n heerlike nagrus in gerieflike groot kamers en ‘n ordentlike groot ontbyt, het die ‘pack’ vertrek – net voor die son kon water trek – want ons het mos nou gister ons les geleer.….die Berg was ‘n verfrissende koel ry terug na Polokwane en almal is veilig uit en tuis na ‘n aller-heerlike naweek van lag, saamkuier, gesels, opvang, uitvang en nog meer lag en gesels!!
Dankie weereens aan ‘n Girl wat KAN organiseer! Ons weet wat dit vat en waardeer elke detail waaraan aandag geskenk is, om ons Jaareind so ‘n sukses te kon maak! Jy verdien elke kompliment Eleanor….ons maak graag weer so!!
Elke keer wat mens op ‘n one/two nighter of ‘n outride gaan, is daar ‘n lekker storie om te vertel wat jy nie gou gaan vergeet nie! Kathleen Breytenbach skryf vir ons die volgende oor ons outride ervaring GISTER…..
Harley ‘moments’ is nooit vervelig nie! Dit het ons weereens besef met Sondag, 2 Oktober 2016 se Breakfast Run na Haenertsburg. Ons was 4 motorfietse; Linda & Johann Liebenberg, Charmaine & Butch Martens, Bach & Kathleen Breytenbach en Hendrik Blignaut.
Oppad Haenertsburg toe kon ons die vars lug in asem, die brul van die motorfietse waardeer, die kleurvolle bloeisels en groen natuur bewonder. Die stres van die week se gejaag het vinnig verdwyn! Na ‘n heerlike ligte ontbyt by Minki’s het ons deur die Spring Festival se stalletjies gedrentel en geproe aan die gourmet bokmelkkaas, Litchi Likeur en ook die lekkerste Gin ontdek.
Van Haenertsburg af het ons ‘n stop gemaak by die Pot & Plow vir ‘n lekker drankie en knoffel focaccias. Oppad terug het ons vinnig met Moeder Natuur te doen gekry. HAEL! ‘n Eerste vir die meeste van ons op die Harleys! Wat ‘n belewenis! Eina! Hael is soos ‘n sweep wat piets – oral oor. Lag en skree gelyk!! Benoude oomblikke! Ons is veilig daardeur en kan dit nou ook op ons “done IT” lysie sit. Weereens was dit ‘n onvergeetlike tyd saam op ons Harley Davidson met HOG Limpopo Chapter.
Baie dankie Kathleen Breytenbach, ons kan elke woord be-aam!! Dit was ‘n Ongelooflike Natuur Ervaring! Almal se groot Blou-kolle getuig daarvan!! ;-))
Die naweek se Harley Stroom Rally was ‘n RAAK Rally en is ons bly oor ons Chapter se keuse om hierdie Rally te ondersteun hierdie jaar! Ons was in 3 verskillende węrelde vanaf Vrydag tot Sondag…..
Vrydag se ry via die R579 was ‘n hoog-somer ry en die pad besonder stil. Het gevoel of ons deur Namibie ry en daardie ‘Quarts’ het sy ding mooi gedoen op die regte tyd!!
Die Rally self was goed gereël deur Zambezi Chapter….dankie aan Hester Marais en haar span! HOG Limpopo het natuurlik elke oomblik van lekker-kry aangegryp en GROOT gegaan….ons fotos getuig daarvan!! 34 lede woon by met ‘n ‘pack’ van 22 Harley Davidsons uit HOG Limpopo!
Sondag se ry oor die Panorama was ‘n mid-winter Europese ry! Net so lekker! Dankie aan elke lid wat saamgekom het, dit geniet het en elkeen se positiewe terugvoer! Dit was voorwaar ‘n Fees!